Dinsdag 14 November 2017

Ons pleister vrolik voort!

Karel het met nuwe ywer die oorpleister van gate in die mure aangepak.  Ons gaan more begin verf in die kombuis!  Die sementmengsel wat Karel hier gebruik is se verhouding is:

8kg sand
2kg sement
2kg powafix

Hy het besluit om die Powafix by te sit want dit set vinniger as gewone 1:6 plystermengsel.  Ons wil juis hê die mengsel waarmee ons plyster moet meer funksioneer soos polyfilla sodat ons vinniger aan die verf kan kom en ook sodat ons lagie op lagie 'n gladde afwerking kan kry in die groot kraters wat ons uit die mure gekap het.

Voor
Na
 Ons het die boonste 13 cm van die muur ook mooi afgewerk en oorgepleister omdat ons graag die plafonne effens wil lig en 'n dunner daklys wil installeer.  Ons hoop dit laat die vertrekke groter voel. 

Hierdie muur is net bo die area waar die wasbak gaan wees waar ek die afvlak sement gegooi het laasweek maandag.
Kyk net hoe mooi plyster die man!  (Hoek van die kombuis, hierdie deurtjie gaan na ons opwas...waar ons 'n venster geinstaller het, sien onder!

Die donker, muwwerige opwaskamertjie se agterste muur is toe nou heeltemal uitgebreek.  Die venster is in en die gat waar die tweede agterdeur was is amper toegebou. 

Voor (hierdie foto is in die vorige post...net weer om jul geheue te verfris)

NA
Ons het al die bakstene wat ons uitgebreek het herwin om die gat waar die deur was toe te bou.  Ons enigeste uitgawe hier was die vensterraam.  Ons het sement en sand wat op my skoonouers se plaas was gebruik.  My skoonpa is ook 'n messelaar van formaat.  Ons is bitter dankbaar vir sy hulp. 

Oor die boonste stene nie siersteen is soos die res van die huis nie, gaan ons hierdie muur plyster met tyd en dit dan omskep in 'n kruietuin fokusmuur. 

Ek het probeer om die houtvloere in die hoofslaapkamer af te skuur met 'n bandskaaf van my skoonpa maar het vinnig besef my onfikse armpies is nie opgewasse vir die taak nie en die bandskaaf OOK nie! 


Die boonste helfte van die foto is die area wat ek NIE geskuur het nie en die onderste helfte van die foto is waar ek WEL geskuur het.  
Ek sal maar by Talisman 'n industriële bandskaaf huur en weer probeer.

Soos ons tyd om te trek al nader kom raak ons opgewondenheid al MEER. Hoëveldhuisie is nie naastenby so voltooid soos ons gehoop het hy sou wees nie maar ons dink ons sal meer gedoen kry as ons hier bly EN werk. 

{L}


Donderdag 09 November 2017

Kook my in stroop...

en gooi my in 'n Consol bottel!  Ek het Maandag en Dinsdag so baie tyd in die spens spandeer, ek voel al soos 'n ingelegde perske.

VORDERING WAT ONS HIERDIE WEEK GEMAAK HET:

1.  DIE SPENS EN KOMBUIS

Spens!
Oor daar nie kombuiskaste in die kombuis is op die stadium nie, wil ek al my kombuisware saam ons kos in die spens bêre.  Die spens het nie regtig vreeslik bouwerk nodig gehad nie.  Ek het twee kort rakkies afgebreek (ons sal nou 'n deur kan opsit as ons sou wou), al die rot bollie en stof skoongemaak en die hele spasie met suikerseep gewas om van ander hande se vetterigheid ontslae te raak.  Ek het ook rondom die basis ou brokkelrige plyster afgekap en weer opgevul met polyfilla.

Die vloer gaan met 'Primer' geverf word en dan ook met wit emalje verf geverf word.  

VOOR (rot bollie - siesa!)

NA (silwer skoon)

Die venster in die spens was deel van 'n buitemuur.  Daar is 'n opwas vertrek aangebou met die aanbouing van die badkamer (meer daaroor later).  Hierdie venstertjie kyk nou uit op die waskamer-to-be.  
Die plan is om die spens spierwit te verf en om gehekelde voëltjies aan die deur se kosyne te hang.  Ons skuur en breek nog vreeslik baie in die kombuis so ek het nie maandag en dinsdag geverf soos ek sou wou nie.  

Wat ek wel by uitgekom het is om afvlak-sement te meng en te gooi op die trappie onder die wasbak.  


Ek wil graag die area onder die wasbak oop hou om die gevoel van ruimte te skep.

Ek het gebruik:

Troffel
Breë emmer om in te meng 
Tylon Self leveling Screed (builders warehouse)


Voorwerp om sement mee te meng

(ons het sommer twee stokke gebruik oor dit so
klein hoeveelheid is om te meng.  As jy die hele 20 kg sak wil meng stel ek voor
jy huur 'n industriële boor met 'n sement menger punt by 'n plek soos Kings Hire of Talisman)

'n Spuit bottel wat water in 'n ligte mis kan uitsproei

(die aflaksement raak vreeslik vinnig droog en mens moet nie te lank daaraan karring nie.
Ek het egter plekkies gehad waarmee ek nie tevrede was nie en die ligte watersproei het die oppervlakte net-net nat genoeg gemaak sodat ek dit mooi gelyk met die voorste teëls kon troffel)

Mooi netjies!

2.  DIE WASKAMER EN BADKAMER

Soos ek hier sit stortreën dit buite, vir die eerste keer in 6 weke.  Ons het die reën so nodig en ek is dankbaar daarvoor.  Ons badkamerdak het nie 'n dak nie en die snaakse opwaskamertjie ook nie.  So hul reën nou seker papnat!  Ons het besluit om 'n venster in die opwaskamertjie in te sit oor die muur soveel waterskade het en het toe begin om die hele agterste muur uit te breek.

Die agterdeur wat gaan waai.  Aan die regterkant van die foto is die muur waar ons 'n venster gaan installeer.  Aan die linkerkant van die foto is die kombuis se venster wat na die agterste gedeelte van die tuin uitkyk en ook oor die dam uitkyk.  Daardie grillie pyp wat uit die muur kom is uitgeruk en sal vervang word met 'n nuwe wit pvc pyp.
Toe ons die muur uitbreek, skuif die baksteenkolom waaraan een van die buitedeure vas was effens eenkant toe.  Niks anders kon gedoen word om die struktuur te red nie en ons het dit ook maar afgebreek.Ons gaan die deuropening toe bou en wou komende week die dak opgesit het op die opwaskamer en die badkamer.  Ek het nou 'n sterretjies toilet soos Liewe Heksie sou sê.


'nothing but blue skies...'   Sal maar 'n mop saam stuur more!  
Dit het vir my Maandag en Dinsdag toe ek gehelp werk het by ons Hoëveld Huisie gevoel of ons baie vordering maak.  Dit is maklik om toe voel jy beur vorentoe as jy daar is om te sien wat alles gedoen word.  Ek hoop ek kan die naweek weer 'n tydjie afknyp om die kombuis te gaan afrond sodat ons volgende week daar kan begin verf.  

ONS TREK OOR TWEE WEKE!  

Groete
{L}