Dinsdag 14 November 2017

Ons pleister vrolik voort!

Karel het met nuwe ywer die oorpleister van gate in die mure aangepak.  Ons gaan more begin verf in die kombuis!  Die sementmengsel wat Karel hier gebruik is se verhouding is:

8kg sand
2kg sement
2kg powafix

Hy het besluit om die Powafix by te sit want dit set vinniger as gewone 1:6 plystermengsel.  Ons wil juis hê die mengsel waarmee ons plyster moet meer funksioneer soos polyfilla sodat ons vinniger aan die verf kan kom en ook sodat ons lagie op lagie 'n gladde afwerking kan kry in die groot kraters wat ons uit die mure gekap het.

Voor
Na
 Ons het die boonste 13 cm van die muur ook mooi afgewerk en oorgepleister omdat ons graag die plafonne effens wil lig en 'n dunner daklys wil installeer.  Ons hoop dit laat die vertrekke groter voel. 

Hierdie muur is net bo die area waar die wasbak gaan wees waar ek die afvlak sement gegooi het laasweek maandag.
Kyk net hoe mooi plyster die man!  (Hoek van die kombuis, hierdie deurtjie gaan na ons opwas...waar ons 'n venster geinstaller het, sien onder!

Die donker, muwwerige opwaskamertjie se agterste muur is toe nou heeltemal uitgebreek.  Die venster is in en die gat waar die tweede agterdeur was is amper toegebou. 

Voor (hierdie foto is in die vorige post...net weer om jul geheue te verfris)

NA
Ons het al die bakstene wat ons uitgebreek het herwin om die gat waar die deur was toe te bou.  Ons enigeste uitgawe hier was die vensterraam.  Ons het sement en sand wat op my skoonouers se plaas was gebruik.  My skoonpa is ook 'n messelaar van formaat.  Ons is bitter dankbaar vir sy hulp. 

Oor die boonste stene nie siersteen is soos die res van die huis nie, gaan ons hierdie muur plyster met tyd en dit dan omskep in 'n kruietuin fokusmuur. 

Ek het probeer om die houtvloere in die hoofslaapkamer af te skuur met 'n bandskaaf van my skoonpa maar het vinnig besef my onfikse armpies is nie opgewasse vir die taak nie en die bandskaaf OOK nie! 


Die boonste helfte van die foto is die area wat ek NIE geskuur het nie en die onderste helfte van die foto is waar ek WEL geskuur het.  
Ek sal maar by Talisman 'n industriële bandskaaf huur en weer probeer.

Soos ons tyd om te trek al nader kom raak ons opgewondenheid al MEER. Hoëveldhuisie is nie naastenby so voltooid soos ons gehoop het hy sou wees nie maar ons dink ons sal meer gedoen kry as ons hier bly EN werk. 

{L}


Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking