Maandag 23 Oktober 2017

"There goes my everything..." -Elvis Pelvis Presley

Ek kan myself in Elvis se skoene indink (nie die bloues nie) toe hy die liedjie gesing het.  Ons is knus in ons tydelike Morgenzon hawe.  Dit voel of ons 'n BERG geklim het die afgelope 3 weke en ons het dit gemaak tot by 'n plato.



Ons het suksesvol met een vrag (bakkie en beeswa) slegs dit wat ons vir die volgende 4 weke gaan nodig hê na Morgenzon toe getrek.  Sover is ek mal oor die eenvoud van 'min goed'.  My huisie maak vinnig skoon en alles het 'n spesifieke bêreplek.  As ons regkom gaan ek 'n groot konmari sessie hê as ons in Hoëveld Huisie intrek.  My dierbare skoonmoeder stoor ons ander 'only posessions' by haar aan huis.  Die meubels en bokse staan twee vertrekke vol en sy ontvang my steeds met ope arms en hope liefde.  

My ma het die naweek kom hand bysit met die jongspan terwyl ek en Karel 'n blaaskansie gevat het by Standerton Akademie se Noot vir Noot aand.  Ek dink oumas sal enige verskoning gebruik om saam hul kleinkinders te kuier.  Ons is ongelooflik geseënd met die oumas en oupas in ons lewens, al 3 pare van hulle!  Ek en Karel is absoluut oorweldig deur die ondersteuning en 'toevou van besorgde vlerke' wat ons van ons geliefdes en selfs bure af ontvang.  

Die bye by Rietspruit se Hoëveld Huisie is vir eers oorwin.  ONS HET ELEKTRISITEIT, en werk aan die mure gaan volstoom voort.  Die huis se mure het weens 'n lekkende dak groterige krake begin vorm wat deur vorige huurders met polyfilla toegemessel is.  Ons wil graag die saak beredder en krap nou maar die polyfilla so bes moontlik uit.  Ons gaan dan die krake toesmeer met 'n baie gladde sement  (Ek sal net by Karel uitvind presies wat hy gebruik, ek dink dis Powafill of so iets) en dan 'n sagte grys verf.  Die PVC plafonne is wit en die vloerlyste gaan ook wit bly.  

Aangesien ons nou so drie weke ekstra werktyd het voor ons moet intrek gaan ek kyk of ek nie tog 'afskuur van houtvloere' terug op ons TE DOEN lys kan sit nie.  By die skool is dit amper eksamentyd.  Die hoërskool begin Woensdag met bloktyd en Vrydag met eksamen.  Ek stel vraestelle op en begin dink aan al die jaar se afsluitingsadministrasie wat gedoen moet word.  

Ons het nou wel op Morgenzon se plato ons rugsakke afgehaal maar ons het ons stapskoene aangehou.  Ons sien die berg se piek wink en kan nie wag om die uitsig van bo af te bekyk nie.  Ons skep asem voor die laaste klim!





Woensdag 18 Oktober 2017

Verhuis is nie vir sissies nie....onbeplande wendings

Met 'n swaar gemoed tik ek vandag se pos.  Ons verhuurder het gister (dinsdag) vir Karel gebel en versoek dat ons teen Vrydag uit sy huis moet wees, 'n hele week vroër as beplan.  Hoëveld huisie se motorhuis staan steeds stampvol gepak met die vorige huurders se besittings EN daar is 'n bynes VOL hardnekkige bye wat nie wil trek nie, in die skoorsteen!

Die spasie agter die skoorsteen war die bye hulself ingewurm het.  Onbereikbaar!
Gelukkig het Morgenzon Landbou Akademie (waar ek tans Wetenskap en Tegniese Wetenskap gee) 'n huis beskikbaar en die Hoof het goedhartig ingestem dat ons vir 4 weke die huis kan huur.  Dit is lekker vir die kinders want ons kan 'n halfuur later opstaan in die oggend en hul is naby van hul kleuterskool maatjies wat ook op die skoolgronde bly.  Ek voel jammer vir hulle vir die heen en weer ontwrigting maar kinders is aanpasbaar en ek hoop hul beleef dit as 'n avontuur.

Ek is nog nie seker hoe ons ons trek gaan behartig en waar ons die groter items gaan stoor nie.  Ons gaan vanaand pak so besetenes.  Ek beplan om die minimum items saam te trek skool toe.  Ek wil nie he dit moet nog 'n vol gepakte huis word waaruit ons moet trek nie.  Minimum klere, definitief speelgoed vir die seuns, yskas en een boks se kombuisware.  Ons kan skoolbeddens gebruik, maar sal eie beddegoed bring. 

As die volgende drie dae se trek verby is, glo ek sal ek weer kan asemhaal.  Ek sien uit om uit ons huidige huis te wees en om ordentlik te kan beplan vir die volgende 4 weke sonder 'n verhuurder/nuwe inwoners wat heeltyd oor jou skouer loer en elke paar dae hul planne en eise verander.

Wat die bye betref...dit is 'n hoofpyn en 'n pos vir 'n ander dag!



Maandag 16 Oktober 2017

Net 'n vinnige inloer om my opgewondenheid te deel...

ONS PLAFONNE IS HIER! 

PVC hemel!
Dankie aan my skoonpa vir die gebruik van sy bakkie, die deel van al sy kennis en raad. 

Nou is die groot taak om die mure glad afgewerk te kry, te verf en dan kan ons voortgaan met installasie. 

Ons het nog nie elektrisiteit of lopende water by Hoëveld Huisie nie maar klink my Karel gaan hierdie week iets daaromtrent doen.

Donderdag 12 Oktober 2017

Plafonne is in Johannesburg!


Ek het probeer boekhou van elke dag se verwikkelinge van ons uitgevind het ons moet trek.  Die projek wat ons eerste wou aanpak voor ons intrek was om die plafonne te vervang, lekplekke op die dak reg te maak, seker te maak die dakbalke het nog strukturele integriteit en om terwyl die plafonne uit is, die huis te bom met gogga gif!

Die kombuis die dag wat die plafonne uitgehaal is.  Daar is op die stadium geen kombuiskaste of 'n stoof nie.  
Ons het drie kontrakteurs na die huis genooi om vir ons kwotasies te gee om die plafon te vervang, oor ons albei werk en oor ons regtig graag wil hê die plafonne moet ordentlik geinstalleer wees.  Ongelukkig was al die kwotasies wat ons ontvang het heeltemal buite ons (BAIE BEPERKTE)begroting.  Ons het wel kennis gemaak met PVC Plafonne.  Karel het opgelees daaroor en 'n paar tutoriale gekyk en besluit dat hy dit self sal kan installeer teen die helfte van die gekwoteerde prys! BARGAIN!

Vintage-grafiti!  Die balke geinstalleer deur groot-oom Danie Fischer.

Karel het vir die afgelope twee weke plafonne uitgebreek, dakbalke wat gebreek/gesak het herstel en AL die dwarslatte ('brandrings') (waaraan ons nuwe plafon moet vas kom) vervang.

Plafonne waai!

Met die installering van die nuwe dwarslatte het ons begroting 'n effense knou gekry.  'n Vriendin het ons gewaarsku dat huisopknappings altyd kleintjies kry!  Die oorspronklike dwarslatte was nie dieselfde dikte as die nuwe dwarslatte nie!  So het Karel se werk en ons uitgawes verdubbel. 

PVC Plafonne!  Ek het hierdie prentjie van alibaba.com af gekry, LOER HIER

Die groot voordeel van die pvc plafonne is dat die nie soos rhinoboard geaffekteer word deur waterskade nie.  Die water loop regdeur die plate in die huis in.  Ons gaan dus nie volgende jaar as ons (BITTER) ou plaashuisie se dak dalk nog 'n gaatjie kry, die plafonne WEER hoef te vervang nie.
Mens hoef dit ook nie te verf elke paar jaar nie en dit maak maklik skoon.  Wat mens wel moet bykoop is silwer isolasiemateriaal.  (Think pink sal deurskyn en te swaar wees vir die pvc plafonne).

As jy die prentjie wil bekyk, loer hier
Wat koste betref is dit net effens duurder as tradisionele plafonne oor jy nie verf hoef aan te koop nie.

 Na baie wik en weeg het ons besluit op 'n matte-wit bord soos hierdie hier bo.  Ons is nie gek oor die glans afwerking nie en in ons opinie kan mens makliker die riffels in die middel van elke bord sien.   Die gladde afwerking gaan 'n beter keuse wees a.g.v. al die stof in die huis as die wind waai.

Ons het al ons plafonne en plafonlyste gekoop by THE PVC SHOP.  Hul was hupvaardig en hul diens is puik!  Vandat ons betaal het, is ons bestelling binne 'n week in Johannesburg afgelewer.
Karel het vanoggend gery om die vrag te gaan oplaai.  Ons hoop om die naweek die seuns se slaapkamer te kan verf (na die mure voorberei is) en dan die plafonne te installeer!

HOU DIE SPASIE DOP!


Maandag 09 Oktober 2017

Ons is die Fischers

en dit is vir ons 'n voorreg om met jul ons opknappingsprojek te deel.

Rietspruit se huis is die huis waarin my man as kind gewoon het.  Hier het sy ma, hoe lank hy geword het teen die spens se koesyn ingekerf en hier het hy sy kinderjare spandeer.  Hy het na matriek Pretoria toe verhuis agter sy aster aan (dit is nou ek).  Alhoewel ek in Pretoria grootgeword het, het ek nog altyd in my hart geglo ek moes eerder 'n plaasmuis gewees het.

Die agterdeur met 'n bukkende Karel.  Dit is die kombuisvenster.

Ons het in 2013 platteland toe verhuis en eers nes geskrop by Morgenzon Landbou Akademie waar ek pos gekry het as Wetenskap juffrou vir graad 10 tot 12.  Ons gesin het toe al bestaan uit drie lede (dit was die jaar wat ons oudste 2 sou word).  Ons het twee jaar by die Landbou Skool aan huis gegaan en het nog twee boeties ryker geword in die tyd.

Met die geboorte van ons derde seuntjie het ons besluit om 'n ander holte vir ons voete te gaan soek.  Ek was tot die been toe moeg en het gevoel ek mis uit op my seuns se kleuterkaskenades.  Ons verhuis toe na 'n kolossale plaashuis naby my skoonma en skoonpa.  Hier het ons in 2016 asem geskep, die kinders geniet en weer ons rigtingwysers gerig.

In die laaste week van September het ons huurder ons laat weet dat hy 'n voorman aangestel het wat in ons huis sal moet intrek en net dan en daar het Karel besluit ons trek na Rietspruit se huisie toe.     Dit is waar ons nuwe plattelandse avontuur begin.  Die begin van ons nuwe 5 jaar plan (huidige een verval nou einde 2017).  HIER gaan ons vestig en bou en ons seuns sien mans word.

Ou muurkleur en 'n klein voorbeeld van die waterskade regdeur die huis.  Links kan jul ook die ou gordynreëlings te siene kry.  #hoofslaapkamer


Met ons inloer intrapslag was die huis nou nie juis asemsnak mooi nie maar het onsettend baie potensiaal gehad.  Ek kon in my geestesoog sien hoe ons daar bly maar daar moes eers 'n paar opknappings aangebring word.  Ek en Karel het natuurlik verskillende lysies gehad van takies wat verrig moes word voor ons kan intrek...

Hoëveld huisie in 2014.  

MY LYS:
Nuwe plafonne
Verf mure
Breek badkamer aanbouing af en bou die muur toe, sit sommer 'n venster in
Skuur en vernis hout vloere
Herstel kombuisvloer
Haal ou gordynreëlings af en vervang met nuwes
Kap teëls van die mure af, verf seëllaar en verf oor
Vervang ingeboude kaste in hele huis
Installeer kombuiskaste en koop 'n stoof
Herstel opwas area in die kombuis
Verf en herstel die dak
Sit elektrisiteit aan
Installeer waterpomp vir lopende water
TREK IN

KAREL SE LYS:
Sit elektrisiteit aan
Installeer waterpomp vir lopende water
TREK IN

NA BAIE KOMPROMIE AAN ALBEI KANTE IS ONS NUWE LYS:
Vervang plafonne
Verf
Skuur vloer (dalk)
Sit elektrisiteit aan
Installeer waterpomp vir lopende water
TREK IN

Ons is kinderlik opgewonde om ons tyd en energie aan ons Hoëveld Huisie te spandeer.  Oor dit so monumentale taak is wat vir ons voorlê het ek besluit om daaroor te blog om ander nuwe optimistiese huiseienaars te inspireer en moeite met navorsing te spaar tydens hul selfdoenprojekte.  Ons sal enige raad van kenners of suksesvolle selfdoeners waardeer.

Die Fischers