Die hele huis is geverf met Tender Scandanavia van Dulux. Die kosyne en vloer lyste is wit geverf met enamel verf. Die spens is met dieselfde wit oorgeverf en lyk sommer spiggerish!
Almal onthou hoe HET die spens gelyk. Ek het breedvoerig uitgebrei oor die rotbolle en die stofbolle in die vorige pos.
![]() |
Die spens kry 'n onderbaadjie! |
Die waskamer en badkamer se dakke is op! Die linoleum in die waskamer is opgeruk. Dit was vreeslik muwwerig en ek is seker daar het varings daar onder gegroei. Ons gaan 'n Screed vloer daar gooi en sal dan herevalueer of ons kamma-hout plakteëls gaan plak en of ons sommer net die screed met wit enamel gaan oorverf.
![]() |
GRILLIE! "Everyday I'm shoveling..." |
![]() |
Karel sê dit lyk bietjie soos 'n toneel uit 'n riller. Ek is baie seker as ons diep genoeg grawe sal ons Kruger ponde hier ontdek. (Nee, ek sal nie vir julle sê as ons dit gekry het nie) |
Dit bring my by die vordering in die opwas (wat heeltemal toegeskryf kan word aan my skoonpa se harde werk)
Die vensterraam is in, die deur is toe gebou en die gedeeltes waar 'nuwe' stene gebruik is, is al amper klaar geplyster. Ons het 'n vlaag reën gekry die laaste week en 'n half so die buitemuur is effens afgeskeep. Ek wag in spanning want ek beplan om potjies teen die muur vas te sit en kruie daarin te plant.
![]() |
Regs onder is die oorle linoleum. Jig. |
Die groentetuin se bewerking is ook goed aan die gang. Ek het al my saailinge uitgeplant en het 'n paar tamaties aangeskaf waarvoor ek nog 'n bedding sal maak. Hier is 'n voor en na fototjie van die werk wat al daar gedoen is.
Daar is sover rankboontjies, botterskorsie, spanspek, waatlemoen, mielies, blomkool, uie en ertjies. Na die reën sommer baie bossies ook.
Laaste maar virseker nie die minste nie, het Karel en my skoonpa al drie vertrekke se plafonne geinstalleer! Die installering van die PVC plafonne gaan al hoe vinniger hoe meer vertroud hul met die proses raak. Ons slaapkamer was die proefkonyn. Kyk net hoe deftig!
Ek sal in die volgende pos 'n in diepte beskrywing lewer van HOE ons die plafonne geinstalleer het. Net so oorsigtelik, volgens Karel sit mens eers drie sye van die vertrek se daklyste vas. Dan gly mens elke PVC plankie in die lyste se groewe in tot op die ander punt van die vertrek. Dan sit jy die vierdie daklys (cornice...ek hoop ek het die regte afrikaanse woord hier beet) vas.
![]() |
Hier het Karel nou die eerste plankie ingeskuif na hy drie sye van die vertrek se lyste vasgekram het teen die nuwe dwarslatte. |
![]() |
Vandag het hy begin met die kombuis. Die opwas het al 'n plafon. |
Loer bietjie na HIERDIE video vir 'n beter idee wat hierdie plafonne behels. Ons metode verskil effens maar meer daaroor as ek my eie video reeks kan plaas.
Dit is sielsbevredigend om te kan sien hoeveel vordering is al gemaak. Die T-dag kom al nader en ek kan al die beskuit ruik wat ek in die kombuis gaan bak en die modder sien wat ek van die seuns se hande gaan af was.
Hou die blog dop vir vordering in die opwas en badkamer!
{L & K}
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking