Die huidige stand van sake:
Eetkamer - Klavier moet van Pretoria af gebring word, plafon moet geseël word, vloer moet gerestoreer word. Gordyne se some moet verstel word.
Seuns slaapkamer - vloerlyste moet oorgedoen word, vloer moet gerestoreer word, plafon moet geseël word, een hangkas het nog 'n laag wit verf nodig, gordyne se some.
Ons slaapkamer - vloer restorasie, gordyne se some moet verstel word, kopstuk vir die bed prakseer.
Spaarkamer - plafon moet nog geinstalleer word, vloerlyste, vloer het liefde nodig.
Badkamer - Glas stortdeur, Het nog 'n lagie wit verf nodig, het 'n plafon nodig, kort nuwe silikoon teen die bad se rand (water lek tussen die bad en die muur in op die stadium en laat die spaarkamer vreeslik klam ruik). 'n Gat moet in ons lessenaar/badkamer kassie gesaag word vir die wasbak. Ons moet 'n plan beraam met die 'oop' venster teen die waskamer, daar is op die stadium 'n spieel vasgeplak.
Kombuis - Ons moet teëls plak agter die wasbak (backsplash), ek wil 'n gordyntjie maak wat die wasbak se pype verdoesel. Ek het 'n paar kaste nodig in die kombuis maar ons moet hul net gaan haal by my skoonouers en dan moet ons blaaie vir hul aanskaf. Die opwas het nog 'n lig nodig en ek moet godyne in die kombuis beraam.
Waskamer - DIE MEESTE WERK. Ons moet 'n afgevlakte sementvloer gooi, ons moet glas vir die vensterraam bestel en installeer. Die vertrek het verf nodig en dan moet rakke opgesit word vir linne en skoonmaakmiddels.
Sonstoep - dien as pakkamer vir al ons besittings wat nog nie uitgepak kan word nie en ons besittings wat weggegee of verkoop gaan word.
Al die vensterrame in die huis het nuwe putty nodig. Sommige ruite is so los soos dames laat aand in Esselen straat.
Ons het onsself al ingeburger in Rietspruit. Ons het ontdek ons appelboord dra 'n magdom appels (wat is die versamelnaam vir appels? 'n tert appels?) en my groentetuin groei en gedy. Ons oudste is lief daarvoor om vir homself boontjies te gaan pluk. Ek is dankbaar vir die lewe wat die kinders hier op die platteland het.
Ek het vir jul 'n klein bederfie. Ons sitkamer se dekor en meubels is so te sê presies soos ek dit wil hê. Kyk bietjie na die voor en na!
![]() |
Bye het nog nie weer teruggekeer nie. |
![]() |
Hierdie kraak het ongelukkig teruggekeer met die baie reën wat ons die laaste maand gekry het. Ons het hom vol silikoon gespuit en net weer oorgeverf en SIEDAAR! Kraak (sover) weg! |
Hier waar ek nou in die vertrek sit en om my kyk, kan ek amper nie glo hoe vol stof ons was en hoe rou die mure was voor ons begin verf het nie. Karel en my skoonpa het hul hande ielte gewerk aan hierdie huisie. Ek voel bevoorreg om hier te kan bly.
Ons is besig om van 'n groot klomp klere, dekor items, middematige meubels en kombuisware ontslae te raak. Hier is die skakel na die facebook groep: FISCHER WERFVERKOPING
Volgende week begin die skool weer. Die kinders se skryfbehoeftes en benodighede is gekoop, ek het 'n paar nuwe toppies vir my gemaak as deel van 2018 se #makenine2018 uitdaging. (Jy kies enige 9 patrone om te maak, brei, hekels ens. teen die einde van 2018). Gaan kyk gerus op instagram na my keuses en vordering.
Die res van hierdie week kry my toekomstige klas 'n opknappingsbeurt. Ek gaan hom dieselfde kleur as die huis verf (ja Tender Scandanavia is van nou af my gunsteling tipe Scandinavia) en mettertyd viniel plakkers teen die vensters plak. Ekt nog nie besluit op 'n motief nie..dalk origami voëltjies of pythagoras se goue reël.
2018 ONS IS REG VIR JOU!
Dankie vir die saam lees!
Groete {K&L}
Geen opmerkings nie:
Plaas 'n opmerking