Vrydag 15 Desember 2017

Jannie du Toit sing 'n liedjie oor eenvoud...

Ons het amal onklaar takies.  WIP's (works in progress), daardie doen-dit-self projek waarvoor jy al 'n jaar terug verf en kwaste gekoop het,  die 'verkoop/gee weg' boks wat net al hoe voller word, die 18 maande oue derde kind wat nog gerigestreer moet word (just jokes!...nie regtig nie). 

Die projekte staan ons rakke vol, word maand na maand in jou dagboek oorgeskryf, word netjies in laaie gebêre of sommer onder die bed ingeskop maar ons vergeet nooit regtig van hulle nie.

'n Onvoltooide taak is soos 'n onwelkome gas by jou verjaardag partytjie.  Jy groet beleef en laat hul inkom en alhoewel jy nie heel partytjie lank saam hul kuier nie, is jy pynlik bewus van hul teenwoordigheid want skielik is daar nie genoeg wortelslaai vir almal nie en hul het al die olywe uit die mengeslaai gesteel.

Klein jakkalsies!

 Ek het met hierdie hele proses besef hoe baie klein jakkalsies ek en Karel in ons 5 jaar van getroud wees bygekry het.  Ek het ook met ons blyery by Morgenzon Akademie en nou by my skoonsus in hul gastehuis die waarde van EENVOUD opnuut besef.  Daar is baie vreugde te vinde in eenvoudige takies en 'n eenvoudige leefstyl.

Ek het laasweek my hekelgoed boks gaan haal waar ons besittings by skooma gestoor is.  Projek op onvoltooide projek het my in die gesig gestaar.  Almal sorgvuldig gebêre vir as ek weer die regte kleur wol (wat opgeraak het) gekoop kry of as ek weer die regte grootte hekelnaald (wat weggeraak het) in die hande kry of as ek weer lus kry! 'n Hele ekstra boks vol klein jakkalsies wat ek saam my rond trek.


Genoeg.

Ek het elkeen losgetorring (in die hekel- en breiwêreld praat ons van 'frog').  Ek het 'n eenvoudige kombers patroon gesoek en gekry, presies soos die een hier op Attic 24 se blog en ek gaan vir my sitkamerbank 'n kombers hekel.  EEN eenvoudige kombers wat al my versamelde wol vir al my duisende projekkies moet opgebruik.  Ons noem hom sommer van nou af die eenvoud-kombers.


Gister was dag een en ek het met groot sukses al die vlootblou wol gebruik.  (Blometjies vanoggend deur Greyling gepluk)


Wie weet wanneer hierdie kombers gaan klaar wees, ek gaan nie druk op myself sit daarvoor nie.  Ek voel ligter want ek weet daar is nou net EEN hekelprojek.  Die ander laaie in my onderbewussyn is toegemaak en hulle is leeg. 

Ons trek maandag in Rietspruit in.  Daar is nog baie onvoltooide gedeeltes in die huis maar dit is alles tekens op die toekoms wat wink.  Ek sien blymoedig daarna uit om met ons intrek 'n eenvoudiger leefstyl te bewerkstellig. 

"Eenvoud is die vreugde van die lewe, dis gee en neem net wat daar is.  Dis dankbaar eet aan elke skewe snytjie brood wat liefde is..." - Jannie du Toit



Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking