Woensdag 10 Januarie 2018

Ons bly in ons Hoëveld Huisie en...die sitkamer onthulling!

 Ja, jul lees reg, ons het semi-suksesvol ingetrek. 

Die huidige stand van sake:

Sitkamer - Plafon moet geseël word, vloer moet gerestoreer word, kaggel het liefde nodig.  Dekor moet opgehang word.

Eetkamer - Klavier moet van Pretoria af gebring word, plafon moet geseël word, vloer moet gerestoreer word.  Gordyne se some moet verstel word.

Seuns slaapkamer - vloerlyste moet oorgedoen word, vloer moet gerestoreer word, plafon moet geseël word, een hangkas het nog 'n laag wit verf nodig, gordyne se some.

Ons slaapkamer - vloer restorasie, gordyne se some moet verstel word, kopstuk vir die bed prakseer.

Spaarkamer - plafon moet nog geinstalleer word, vloerlyste, vloer het liefde nodig.

Badkamer - Glas stortdeur, Het nog 'n lagie wit verf nodig, het 'n plafon nodig, kort nuwe silikoon teen die bad se rand (water lek tussen die bad en die muur in op die stadium en laat die spaarkamer vreeslik klam ruik).  'n Gat moet in ons lessenaar/badkamer kassie gesaag word vir die wasbak.  Ons moet 'n plan beraam met die 'oop' venster teen die waskamer, daar is op die stadium 'n spieel vasgeplak.

Kombuis - Ons moet teëls plak agter die wasbak (backsplash), ek wil 'n gordyntjie maak wat die wasbak se pype verdoesel.  Ek het 'n paar kaste nodig in die kombuis maar ons moet hul net gaan haal by my skoonouers en dan moet ons blaaie vir hul aanskaf.  Die opwas het nog 'n lig nodig en ek moet godyne in die kombuis beraam.

Waskamer - DIE MEESTE WERK.  Ons moet 'n afgevlakte sementvloer gooi, ons moet glas vir die vensterraam bestel en installeer.  Die vertrek het verf nodig en dan moet rakke opgesit word vir linne en skoonmaakmiddels. 

Sonstoep - dien as pakkamer vir al ons besittings wat nog nie uitgepak kan word nie en ons besittings wat weggegee of verkoop gaan word.

Al die vensterrame in die huis het nuwe putty nodig.  Sommige ruite is so los soos dames laat aand in Esselen straat. 

Ons het onsself al ingeburger in Rietspruit.  Ons het ontdek ons appelboord dra 'n magdom appels (wat is die versamelnaam vir appels?  'n tert appels?) en my groentetuin groei en gedy.  Ons oudste is lief daarvoor om vir homself boontjies te gaan pluk.  Ek is dankbaar vir die lewe wat die kinders hier op die platteland het. 

Ek het vir jul 'n klein bederfie.  Ons sitkamer se dekor en meubels is so te sê presies soos ek dit wil hê.  Kyk bietjie na die voor en na! 




Bye het nog nie weer teruggekeer nie.

Hierdie kraak het ongelukkig teruggekeer met die baie reën wat ons die laaste maand gekry het.  Ons het hom vol silikoon gespuit en net weer oorgeverf en SIEDAAR!  Kraak (sover) weg!


En nou vir die groot oomblik, die onthulling!




Hier waar ek nou in die vertrek sit en om my kyk, kan ek amper nie glo hoe vol stof ons was en hoe rou die mure was voor ons begin verf het nie.  Karel en my skoonpa het hul hande ielte gewerk aan hierdie huisie.  Ek voel bevoorreg om hier te kan bly.

Ons is besig om van 'n groot klomp klere, dekor items, middematige meubels en kombuisware ontslae te raak.  Hier is die skakel na die facebook groep:  FISCHER WERFVERKOPING

Volgende week begin die skool weer.  Die kinders se skryfbehoeftes en benodighede is gekoop, ek het 'n paar nuwe toppies vir my gemaak as deel van 2018 se #makenine2018 uitdaging.  (Jy kies enige 9 patrone om te maak, brei, hekels ens. teen die einde van 2018).  Gaan kyk gerus op instagram na my keuses en vordering.

Die res van hierdie week kry my toekomstige klas 'n opknappingsbeurt.  Ek gaan hom dieselfde kleur as die huis verf (ja Tender Scandanavia is van nou af my gunsteling tipe Scandinavia) en mettertyd viniel plakkers teen die vensters plak.  Ekt nog nie besluit op 'n motief nie..dalk origami voëltjies of pythagoras se goue reël.  

2018 ONS IS REG VIR JOU!  

Dankie vir die saam lees!

Groete {K&L}

Vrydag 15 Desember 2017

PVC-plafon en 'drop light' installasie tutoriaal...

Behalwe vir afronding is ons kombuis en opwas vertrekke so te sê reg vir Maandag se nie-so-groot trek.

Soos jul almal teen die tyd weet het ons besluit om eerder PVC-plafonne in Hoëveld Huisie te installeer i.p.v. die alombekende Rhino-board plafonne.  

'n Semi-ervare Karel en 'n leuk-Louise kon die kombuis se plafon binne 'n uur en 'n driekwart voltooi het.

Eerstens moet jy drie van die vertrek se mure meet.  (Daklyste word eerste ingesit en dan skuif die plafon planke in hierdie drie lyste in.)  

Kombuis soos jul hom laaste gesien het.  Dalyste of 'cornices' is aan drie sye van die vertrek aangebring en die vierdie sy se lys word gelos tot die heel laaste plank geinstalleer word.
Karel het na hierdie foto geneem is die 'drop lights' se bedrading gedoen.  Ons het toe begin om die 6 meter lange plafon planke te meet en te sny.  Die kombuis het presies 12 planke gevat om te voltooi. 

6 meter lank en BAIE buigbaar!

Meet en pas :)

So lyk hul binne.  So lig soos 'n veertjie, maak skoon soos 'n droom!
Na elke lengte gesny is het ons hul kombuis toe gedra.  Die planke word baie maklik vuil en is stof magnete a.g.v. statiese elektrisiteit.  Niks wat 'n klam lappie nie kon beredder nie.

Elke plank word dan reg om in die daklys op die punte ingeskuif en daarna in die vorige plank ingeskuif.  Ek stel voor jul kry 'n rubber hammer om die planke mee in te tik, ons handpalms was blou na dese.

Karel speel met sy kramgeweer
As die plafon plank deeglik vasgestamp (blou handpalms) is moet dit vasgemaak word aan die dwarslatte.  Karel het hierdie dwarslatte nuut geinstalleer oor die voriges te ver uitmekaar was.  Ons het 'n outomatiese kramgeweer gebruik wat die taak baie bespoedig het.

So maklik, die antie het ook 'n beurt gekry.
Ons het vier 'drop lights' (wat is die afrikaanse woord?) in die kombuis ingesit.  Ons het hulle vanaf die hoek van elke vertrek 88cm van die twee mure af ingesit.  Dit was omtrent in die middel van die vierde plank wat ons ingesit het.  

Die rooi kolle is waar ons liggies ingesit is.  Ons het LED liggies gebruik, ek sal net seker maak by Karel oor die Watts van elke liggie.


Die man meet, hyt lekker parralaks fout gemaak maar ek het hom reggehelp van onder af.  Hy verdien 'n prys vir sy geduld!  

Die baie indrukwekkende gat-maker-aanhegsel wat mens op jou standaard elektriese boor monteer om gate in die plafon te saag.

Kyk daardie fokus!

En siedaar!  Minder as 5 minute geneem.
As jou liggie se gat gesny is, haal die gloeilampie af (ons het eers getoets of die bedrading korrek gedoen is), trek die draad deur die gat, sit jou 'drop light' se omhulsel in die plafon vas, sit jou gloeilamp weer terug en siedaar slaaiblaar! 

Die 'drop lights' het sulke draad armpies wat afwaarts druk toepas.  Die omhulsel knyp homself basies aan die plafon vas.

Karel trek die lig se proppie deur die gat.

Omhulsel is vasgeknup/ingesit en Karel sit die gloeilampie terug.

So maklik, minimalisties en mooi!  

Die twee liggies het ons regtig seker 15 minute geneem.

Na ons eerst twee liggies ginstalleer is, het ons die plafon planke verder ingeskuif en vasgekram tot dit tyd was om die ander twee liggies in te sit.  Na dit voltooi is het ons nog een plank ingeskuif en toe was dit tyd vir die laaste plank en daklys! 

Om jou vertrek se dak te voltooi moet jy die laaste plank EERS in die daklys inskuif en dan albei van hierdie in die vorige plafon plank inskuif.  Dit is nogal 'n storie en vat baie geduld, gebuig en geskuif.

Plank is in daklys ingeskuif.

'n Kykie van naderby

Omdat jy die daklys aan die laaste plank vasgeskuif het en toe die laaste twee planke inmekaar ingeskuif het, sal jy (as die twee planke mooi ingeskuif/ingestamp is met jou vingers) die laaste twee planke met verwers plakband aan mekaar moet vasplak.  Ons het dit gedoen omdat ons die daklys effens van die laaste plank af moet afskuif om dit nader aan die muur te kry.  (Sien foto twee en drie vir die verskil wat dit maak).

Karel plak die laaste twee planke aanmekaar vas om hul naby aan mekaar te hou.  As mens die daklys nader aan die muur skuif sonder om die band te plak kan die twee planke van mekaar af wegskuif .

Voor die daklys nader aan die muur gedruk word

Na die daklys nader aan die muur gedruk word.

Wanneer jou plafon heeltemal geinstalleer is moet jy silikoon tussen die muur en die daklys inspuit en dan die lys met spykertjies aan die muur vaskap.  Hierdie spykertjies word verwyder wanneer die silikoongom droog is.  

Daarsy, dit is hoe ons ons pvc plafon geinstalleer het.  Karel en my skoonpa het met ons kamer baie metodes probeer en dit was die metode wat die beste resultate vir ons gelewer het.  

Ek hoop dit was insiggewend.  Ons het ons plafonne bestel by THE PVC SHOP.  Hul diens is puik en die verkoopsdame was baie behulpsaam.

Ons moet nog isolasiemateriaal aanskaf en insit.  


Ons is mal oor hoe dit uitgedraai het!  

Baie groete

{K & L}

Jannie du Toit sing 'n liedjie oor eenvoud...

Ons het amal onklaar takies.  WIP's (works in progress), daardie doen-dit-self projek waarvoor jy al 'n jaar terug verf en kwaste gekoop het,  die 'verkoop/gee weg' boks wat net al hoe voller word, die 18 maande oue derde kind wat nog gerigestreer moet word (just jokes!...nie regtig nie). 

Die projekte staan ons rakke vol, word maand na maand in jou dagboek oorgeskryf, word netjies in laaie gebêre of sommer onder die bed ingeskop maar ons vergeet nooit regtig van hulle nie.

'n Onvoltooide taak is soos 'n onwelkome gas by jou verjaardag partytjie.  Jy groet beleef en laat hul inkom en alhoewel jy nie heel partytjie lank saam hul kuier nie, is jy pynlik bewus van hul teenwoordigheid want skielik is daar nie genoeg wortelslaai vir almal nie en hul het al die olywe uit die mengeslaai gesteel.

Klein jakkalsies!

 Ek het met hierdie hele proses besef hoe baie klein jakkalsies ek en Karel in ons 5 jaar van getroud wees bygekry het.  Ek het ook met ons blyery by Morgenzon Akademie en nou by my skoonsus in hul gastehuis die waarde van EENVOUD opnuut besef.  Daar is baie vreugde te vinde in eenvoudige takies en 'n eenvoudige leefstyl.

Ek het laasweek my hekelgoed boks gaan haal waar ons besittings by skooma gestoor is.  Projek op onvoltooide projek het my in die gesig gestaar.  Almal sorgvuldig gebêre vir as ek weer die regte kleur wol (wat opgeraak het) gekoop kry of as ek weer die regte grootte hekelnaald (wat weggeraak het) in die hande kry of as ek weer lus kry! 'n Hele ekstra boks vol klein jakkalsies wat ek saam my rond trek.


Genoeg.

Ek het elkeen losgetorring (in die hekel- en breiwêreld praat ons van 'frog').  Ek het 'n eenvoudige kombers patroon gesoek en gekry, presies soos die een hier op Attic 24 se blog en ek gaan vir my sitkamerbank 'n kombers hekel.  EEN eenvoudige kombers wat al my versamelde wol vir al my duisende projekkies moet opgebruik.  Ons noem hom sommer van nou af die eenvoud-kombers.


Gister was dag een en ek het met groot sukses al die vlootblou wol gebruik.  (Blometjies vanoggend deur Greyling gepluk)


Wie weet wanneer hierdie kombers gaan klaar wees, ek gaan nie druk op myself sit daarvoor nie.  Ek voel ligter want ek weet daar is nou net EEN hekelprojek.  Die ander laaie in my onderbewussyn is toegemaak en hulle is leeg. 

Ons trek maandag in Rietspruit in.  Daar is nog baie onvoltooide gedeeltes in die huis maar dit is alles tekens op die toekoms wat wink.  Ek sien blymoedig daarna uit om met ons intrek 'n eenvoudiger leefstyl te bewerkstellig. 

"Eenvoud is die vreugde van die lewe, dis gee en neem net wat daar is.  Dis dankbaar eet aan elke skewe snytjie brood wat liefde is..." - Jannie du Toit



Woensdag 06 Desember 2017

PVC plafonne, verf en die spens se nuwe baadjie...

Daar het SO baie gebeur by Hoëveld Huisie van my laaste pos af! 

Die hele huis is geverf met Tender Scandanavia van Dulux.  Die kosyne en vloer lyste is wit geverf met enamel verf.  Die spens is met dieselfde wit oorgeverf en lyk sommer spiggerish! 

Almal onthou hoe HET die spens gelyk.  Ek het breedvoerig uitgebrei oor die rotbolle en die stofbolle in die vorige pos.



Die spens kry 'n onderbaadjie!
Die spens kort nog een lagie wit.  Daar het 'n klein Greyling-monster op die nat vloer gaan loop so daar moet ook nog 'n lagie oor geverf word.  

Die waskamer en badkamer se dakke is op!  Die linoleum in die waskamer is opgeruk.  Dit was vreeslik muwwerig en ek is seker daar het varings daar onder gegroei.  Ons gaan 'n Screed vloer daar gooi en sal dan herevalueer of ons kamma-hout plakteëls gaan plak en of ons sommer net die screed met wit enamel gaan oorverf.  

GRILLIE! "Everyday I'm shoveling..."  
As julle mooi kyk behoort julle die boomwortels of varingwortels of een of ander optimistiese-plant-wortels te kan sien.


Karel sê dit lyk bietjie soos 'n toneel uit 'n riller.  Ek is baie seker as ons diep genoeg grawe sal ons Kruger ponde hier ontdek.  (Nee, ek sal nie vir julle sê as ons dit gekry het nie)

Dit bring my by die vordering in die opwas (wat heeltemal toegeskryf kan word aan my skoonpa se harde werk)

Die vensterraam is in, die deur is toe gebou en die gedeeltes waar 'nuwe' stene gebruik is, is al amper klaar geplyster.  Ons het 'n vlaag reën gekry die laaste week en 'n half so die buitemuur is effens afgeskeep.  Ek wag in spanning want ek beplan om potjies teen die muur vas te sit en kruie daarin te plant.  

Regs onder is die oorle linoleum.  Jig.  

Die groentetuin se bewerking is ook goed aan die gang.  Ek het al my saailinge uitgeplant en het 'n paar tamaties aangeskaf waarvoor ek nog 'n bedding sal maak.  Hier is 'n voor en na fototjie van die werk wat al daar gedoen is.  



Daar is sover rankboontjies, botterskorsie, spanspek, waatlemoen, mielies, blomkool, uie en ertjies.  Na die reën sommer baie bossies ook.  

Laaste maar virseker nie die minste nie, het Karel en my skoonpa al drie vertrekke se plafonne geinstalleer!  Die installering van die PVC plafonne gaan al hoe vinniger hoe meer vertroud hul met die proses raak.  Ons slaapkamer was die proefkonyn.  Kyk net hoe deftig!  



Ek sal in die volgende pos 'n in diepte beskrywing lewer van HOE ons die plafonne geinstalleer het.  Net so oorsigtelik, volgens Karel sit mens eers drie sye van die vertrek se daklyste vas.  Dan gly mens elke PVC plankie in die lyste se groewe in tot op die ander punt van die vertrek.  Dan sit jy die vierdie daklys (cornice...ek hoop ek het die regte afrikaanse woord hier beet) vas.  

Hier het Karel nou die eerste plankie ingeskuif na hy drie sye van die vertrek se lyste vasgekram het teen die nuwe dwarslatte.

Vandag het hy begin met die kombuis.  Die opwas het al 'n plafon. 

Loer bietjie na HIERDIE video vir 'n beter idee wat hierdie plafonne behels.  Ons metode verskil effens maar meer daaroor as ek my eie video reeks kan plaas.

Dit is sielsbevredigend om te kan sien hoeveel vordering is al gemaak.  Die T-dag kom al nader en ek kan al die beskuit ruik wat ek in die kombuis gaan bak en die modder sien wat ek van die seuns se hande gaan af was.  

Hou die blog dop vir vordering in die opwas en badkamer!  

{L & K}




Dinsdag 14 November 2017

Ons pleister vrolik voort!

Karel het met nuwe ywer die oorpleister van gate in die mure aangepak.  Ons gaan more begin verf in die kombuis!  Die sementmengsel wat Karel hier gebruik is se verhouding is:

8kg sand
2kg sement
2kg powafix

Hy het besluit om die Powafix by te sit want dit set vinniger as gewone 1:6 plystermengsel.  Ons wil juis hê die mengsel waarmee ons plyster moet meer funksioneer soos polyfilla sodat ons vinniger aan die verf kan kom en ook sodat ons lagie op lagie 'n gladde afwerking kan kry in die groot kraters wat ons uit die mure gekap het.

Voor
Na
 Ons het die boonste 13 cm van die muur ook mooi afgewerk en oorgepleister omdat ons graag die plafonne effens wil lig en 'n dunner daklys wil installeer.  Ons hoop dit laat die vertrekke groter voel. 

Hierdie muur is net bo die area waar die wasbak gaan wees waar ek die afvlak sement gegooi het laasweek maandag.
Kyk net hoe mooi plyster die man!  (Hoek van die kombuis, hierdie deurtjie gaan na ons opwas...waar ons 'n venster geinstaller het, sien onder!

Die donker, muwwerige opwaskamertjie se agterste muur is toe nou heeltemal uitgebreek.  Die venster is in en die gat waar die tweede agterdeur was is amper toegebou. 

Voor (hierdie foto is in die vorige post...net weer om jul geheue te verfris)

NA
Ons het al die bakstene wat ons uitgebreek het herwin om die gat waar die deur was toe te bou.  Ons enigeste uitgawe hier was die vensterraam.  Ons het sement en sand wat op my skoonouers se plaas was gebruik.  My skoonpa is ook 'n messelaar van formaat.  Ons is bitter dankbaar vir sy hulp. 

Oor die boonste stene nie siersteen is soos die res van die huis nie, gaan ons hierdie muur plyster met tyd en dit dan omskep in 'n kruietuin fokusmuur. 

Ek het probeer om die houtvloere in die hoofslaapkamer af te skuur met 'n bandskaaf van my skoonpa maar het vinnig besef my onfikse armpies is nie opgewasse vir die taak nie en die bandskaaf OOK nie! 


Die boonste helfte van die foto is die area wat ek NIE geskuur het nie en die onderste helfte van die foto is waar ek WEL geskuur het.  
Ek sal maar by Talisman 'n industriële bandskaaf huur en weer probeer.

Soos ons tyd om te trek al nader kom raak ons opgewondenheid al MEER. Hoëveldhuisie is nie naastenby so voltooid soos ons gehoop het hy sou wees nie maar ons dink ons sal meer gedoen kry as ons hier bly EN werk. 

{L}